Dankoffer

Teks :  2 Kor 8,9

Hierdie maand is die preektema  rentmeesterskap. Dit is hoekom ons  hierdie gedeelte gelees het. ’n Gedeelte wat handel oor die insameling  vir die armes in Judea. Die gelowiges daar het baie swaar gekry. Toe is daar hierdie insameling geloods. Paulus skrywe dan nou ook aan die gelowiges van Korinthe om hulle aan te moedig om ook hieraan deel te neem en dit met toewyding te doen.

In hierdie proses is dit opvallend hoe hy  die regte gesindheid beklemtoon waarmee hulle moet gee. In 2 Kor 9:5  lees ons  die volgende : Hulle moet die dankoffer wat julle vroeër beloof het, vooraf in orde bring.   Dan sal dit daar gereed wees as ‘n werklike offer van dankbaarheid en nie as iets wat afgepers is nie.  Paulus skrywe hier oor die voorbereiding om die bydrae  vir die armes in Judea te kom haal  en vertrou dat dit gereed sal wees .  En hy neem aan as dit so vooraf in gereedheid gebring was, dan sal dit getuig van dankbaarheid  en nie as iets wat afgepers is nie.   As ‘n mens nader op die betekenis van die woorde  werklike  offer van dankbaarheid  let, dan kom dit daarop neer dat hierdie kollekte ‘n seën of danksegging genoem word, dws ‘n daad wat ‘n uiting is van blydskap en wat tot seën strek.   Om  die Here te dien met offergawes,  wil die apostel Paulus sê,   is tog iets wat gepaard gaan met ‘n diepe dankbaarheid.

’n Dankbaarheid waaroor?  . . .  oor die genade en seën van die Here.  Die kollekte is nie maar ‘n bykomstigheid van die godsdienstige lewe nie, maar staan in nouste verband  daarmee.   Dit vorm deel van gelowiges se dankbaarheid oor die  genade van die Here. Daarom sou die apostel Paulus dan ook vroeër in hfst 8 die kollekte vir die armes ‘n liefdeswerk noem.  2 Kor 8:4:  uit eie beweging het hulle by ons aangedring om te mag deel in die liefdeswerk. In verse 6 en 7 lees ons weer dat Paulus hierdie kollekte ‘n liefdeswerk noem.   In hierdie verband noem hy dan ook in v 8 hierdie gee  die toets is van die opregtheid van hulle liefde.    Om dit nog verder te beklemtoon dat dit alles oor dankbaarheid gaan, noem Paulus  dat hulle die genade van die Here Jesus ken.   V9: Hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.   Dit gaan hier in elke opsig daaroor dat by die gee van hulle kollekte hulle sal dink aan hoe Jesus sy lewe gegee het en dat  dit hulle deurgans sal motiveer.   Hoe hy hulle genadig was. Die gemeente is bekend daarmee . Dit is aan hulle gepreek en hulle het dit geglo.

Hierdie wonderlike waarheid word pragtig saamgevat in Fil 2:5-11: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en  aan mense gelyk te word.   Daarmee was hierdie gemeente bekend; laat dit hulle  motiveer.  Volgens 2 Kor 9:7, moet elkeen gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het , nie met teensin of dwang nie, want die Here het die blymoedige gewer lief.   Dat dit alles met dankbaarheid en blydskap gepaard behoort te gaan, word verder duidelik geillustreer deur die woorde in v 13: Deur hierdie  duidelike bewys van julle bereidheid om te dien . . . Die mense wat hierdie kollekte sou ontvang, sal ook vir hulle bid, omdat die genade van God oor hulle so oorvloedig was. Dat hierdie kollekte  vanuit hierdie gesindheid moet plaasvind, kan hy nie genoeg beklemtoon nie. Dit gaan oor die genade van die Here, die seën van die Here en gepaardgaande dankbaarheid.

Iemand skrywe oor hierdie gesindheid van hierdie gelowiges  wat so mildelik gegee het en  sê dit kan so wees, want die  skaduwee van die kruis het oor hulle tjekboeke geval. Dit is mooi, want dit is presies warop dit neerkom. Dit gaan om hierin ook gedring te wees deur die liefde van Christus volgens 2 Kor 5:14. Of soos Paulus dan ook vir die Efesiërs  gebid het volgens Ef 3:18: Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken , liefde wat ons verstand te bowe gaan en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.     Dit gaan oor ‘n hart wat getref is deur die liefde van God in Christus en wat met daardie gesindheid die Here dien met ons offergawes.

Die teenoorgestelde daarvan is soos die apostel daaroor geskrywe het. . . ’n gesindheid van afpers, van teensin of dwang. Die woord afgepers het my nogal laat dink. Dit beteken  iets wat na  ‘n stryd met gierigheid verkry is. Dit is so ver verwyderd van dankbaarheid….dit is om te gee, maar in gedurige stryd met gierigheid. Dit kan nooit in die ware sin van die woord ‘n dankoffer en ‘n seën wees nie, want dit is nie uit diepe dankbaarheid vir die genade van die Here nie.    Dit is nie uit die hart nie, uit liefde nie . . . en dit moet swaar wees, ‘n groot las. Eintlik ‘n   groot pyn, want daar is hierdie  gedurige stryd met gierigheid. Nie een van ons tog so volmaak dat ons  kan sê dat ons nie hierdie stryd ken nie, maar deur die jare in die bediening  sou ek bewus raak van diegene wat met so ‘n gesindheid sou gee.   Lidmate vir wie dit eintlik ‘n groot las is om ‘n bydrae vir die kerk te gee

 In my gesprekke met diakens sou ek hoor van  hoe sommiges altyd verskonings sou hê, wat sou sê hulle kan nie nou gee nie. Daar is  so baie verskonings wat sommige het. Natuurlik kan daar situasies wees van byvoorbeeld  ware nood. Ek het altyd gewonder en wonder vandag nog daaroor sonder om te wil oordeel of dit nie maar hierdie ou stryd met gierigheid is nie. Dat daar nie werklik dankbaarheid is nie.  En die arme diaken moet dit ontgeld.  Daar is mos die storie van die ou seuntjie wat die 50c ingesluk  het en die mos in sy keel gaan vassit het. Sy ouers het alles probeer om dit uit sy keel uit te kry, want hy verstik toe. Hulle het hom selfs onderstebo gehou , maar niks wou help nie. Toe skree die man vir die vrou al wie nou nog sal kan help is die diaken,  want hy weet hoe om geld uit iemand te kry!  Dit word ook vertel van die dogterjie wat saam met haar ouers oppad kerk toe was. In die een hand het sy die R5 vir kollekte gehou en in die ander hand ‘n R5 vir lekkers na die tyd. Oppad val die R5 vir die kollekte in ‘n mangat waaruit sy hom nie kon kry nie. Sy kyk die R5 so en sê: ag siestog  kyk waar val die Here se R5 nou . . . en hou nog styf vas aan die ander R5 vir die lekkers. Of die ander storie van die R50 wat wat vir die R20 gesê het dat hy baie meer werd is as die R20. Toe antwoord die R20 dat  hy erken dit, maar hy kan darem sê hy kom baie meer in die kerk as die R50. Dit is maar snaaksighede, maar dit is ‘n werklikheid hierdie stryd met gierigheid.

Jesus het tydens sy aardse lewe baie teen gierigheid gewaarsku.   Lukas  12:15.  Ons kan maar net bid dat die  Here ons sal bewaar daarteen en dat ons met blydskap die Here sal dien met ons offergawes. Uit ‘n diepe dankbaarheid vir die Here se genade.  

Martin Luther,  die groot hervormer, het gesê: Op die geloofspad gaan ‘n Christen deur drie bekerings: eers die verstand, dan die hart, en uiteindelik die beursie,  én die derde bekering is die bewys van ware bekering. 

Ons bid dat die Here ons sal help om met die regte gesindheid  Hom te dien met ons offergawes.