Om Christen te wees

Skriflesing:  Handelinge 11:19-26

Hierdie maand se preektema is roeping.  Ons dink vanoggend na oor wat dit beteken om ‘n Christen genoem te word.

Jare gelede  in die gemeente van Antiochië is die gelowiges die eerste keer dié naam gegee.  Ons het in v 26 gelees. In Antiochië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.   Die gelowiges word ook in Hand 26:28 asook 1 Petrus 4:16 só genoem.   Dit was toe koning Agrippa  vir Paulus gesê het: Jy dink seker jy kan my sommer gou gou ‘n Christen maak.   Paulus het geantwoord: Of dit nou gou gou gebeur of langer duur .. . ek bid God dat nie net u nie, , maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie.   1 Petrus 4:16: Maar wanneer iemand ly omdat hy ‘n Christen is , moet hy hom nie daaroor skaam nie.   Wat kan ‘n mens hieruit aflei?   ‘n Mens sou kon sê dat die gelowiges so  genoem is omdat die mense van Antiochië in die algemeen hulle  met Christus verbind het  en gesien het  as volgelinge van Christus; daarom het hulle hulle Christene genoem.  

Deur die jare heen is  daar baie daaroor gedink en geskryf . . . en sou om ‘n Christen genoem te word, verder beskryf  word aan die hand van die Skrif.    ‘n Pragtige voorbeeld van  so ‘n beskrywing wat dit dan beteken om ‘n Christen genoem te word, sien ons in die HK waar heel spesifiek gevra word: Waarom word jy ‘n Christen genoem?    Die antwoord  is: omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is.  Vers 26 in Hand 11 word spesifiek  as bewys voorgehou. Dan gaan die HK verder en voeg by dat as gevolg daarvan die gelowige deel het aan die salwing van Christus  sodat ek sy naam kan bely . . .myself  as  ‘n  lewende dankoffer aan Hom kan toewy  en in hierdie lewe met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.

Om  volgens die HK ‘n Christen genoem te word, beteken  in die eerste plek  om  ‘n lid te wees van Christus en daardeur deel te hê aan sy salwing. Waarop kom dit neer? Christus is deur die Vader bestem en aangestel om sekere take te verrig.  Sy eerste taak as, ‘n mens dit so kan noem,  om  aan ons die wil van God aangaande ons verlossing bekend te maak.  Hy het mos baie gepreek, maar Hy het Homself  ook gegee vir die mense en ingetree  vir hulle nood.  Ons lees mos baie in die Skrif hoe Christus Homself gegee het as offer en hoe Hy mense in hulle nood gehelp het  en laastens het Hy ook gekom sodat die Bose oorwin kon word. Die stryd teen dit wat verkeerd is. Dink aan gesprekke oor reg en geregtigheid. Die kerk sou deur die jare na hierdie take van Jesus verwys en dit saamvat met die woorde dat Jesus Profeet, Priester en Koning is.   En nou het ons deel aan hierdie take van Christus - ons volg Hom daarin, ook ons verkondig nou die verlossing deur Christus,  ons getuig daarvan, ons  gee onsself aan mense in hulle nood en laastens  stry ons daarom in die Here se naam,  wie die bose oorwin het,  teen die sonde en die duiwel,  of dan nou teen dit wat verkeerd is. Om ‘n Christen genoem te word  het hiermee te make.  Om ‘n Christen te wees , beteken dus  om Christus na te volg deur te getuig van verlossing soos Hy, deur goed te doen aan mense soos Hy en te stry teen dit wat verkeerd is soos Hy. Hoor weer hoe stel die HK dit: en daardeur deel  aan sy salwing het  sodat ek sy Naam kan bely , myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy  en in hierdie lewe met ‘n vry gewete teen die duiwel en die sonde kan stry. . .

 Ek lees  wat iemand skrywe oor die taak van die kerk  en besef toe dat dit eintlik ook pragtig beskrywe wat dit eintlik beteken om ‘n Christen genoem te word. Hy skrywe : Op verskeie plekke sien ‘n mens deesdae dat gepraat word  van die drievoudige taak van die kerk naamlik om die kennis van God , die lewende God wat ons in Christus Jesus leer ken het , te versprei, om die genade en die liefde  wat ons van die Here ontvang het na ander deur te gee en om mense te wees wat  soos ons God , glo in reg en geregtigheid en billikheid vir almal.   Dit kan maklik in verband gebring word met die drie dinge wat ons ook in Miga 6 hoor.  Die Here vra van ons dat ons reg sal doen, liefde sal betrag  en in ootmoed en opregtheid sal wandel met ons God.   Kyk jy dan ook na die Mesiaanse tekste van die OT , dan sien  jy telkens die drie opdragte van die Messias. Hy sou die aarde kom vul met die kennis van God. Hy sou die blye evangelie verkondig, Hy sou genade en liefde bring vir mense in nood , maar hy is ook die een wat wat reg en billikheid liefhet.   En dan vra hy die vraag. Wat beteken dit vir ons kerk vandag?  En antwoord dan dat ons as gelowiges onsself moet bly afvra of dit ook die dinge is waarmee ons in die gemeentes besig is. . .

Ons sal onsself moet afvra wat ons in die gemeentes  doen aan die verkondiging van die kennis van God.   Glo ons nog regtig dat dit nodig is.  Glo ons nog dat alle mense in die wêreld die evangelie van Jesus Christus nodig het. En as ons dit glo, is dit so dat dit ook blyk uit die gemeente se bediening en prioriteite. Wat doen ons om die evangelie te verkondig aan mense wat nie deel van die gemeente is nie.  En wat doen ons om ons eie lidmate beter in te lei in die waarheid daarvan.  Ons sal onsself ook moet afvra hoeveel ons as gemeentes doen aan liefdesdiens  vir mense wat sukkel met die lewe.  Dit kan so maklik gebeur dat ons besig is met onsself,  dat ons so begaan is oor ons eie geluk, dat ons so konsentreer op ons eie toekoms  dat ons eenvoudig nie tyd kry om aan ander te dink nie.  Ons sal onsself ook moet afvra of ons die Here se diepe besorgdheid oor reg en billikheid  vir alle mense deel.  Hoeveel is ons as Christene bereid om te doen, bereid om op te offer om te help vestig aan ‘n samelewing waarin reg en billikheid woon.   Toe ek dit lees , is ek baie dankbaar  vir ons sendingbediening, vir mense wat ons kan ondersteun op die sendingveld. Ek dink aan die plaasbediening en dink hoe  wesenlik deel dit daarvan is om Christene te wees, maar dink toe ook dat dit die taak van die hele gemeente is. Dit is elke lidmaat se taak om te getuig van verlossing deur Christus.  Hand 1:8  Toe ek dit lees was ek ook baie dankbaar vir ons barmartigheiddiens en besef net weer  hoe wesenlik dit is vir ons as Christene is. Lukas 6. En ek dink aan ons getuienis vir wat reg is. Mat 23:23. En besef hoe dankbaar ons kan wees vir mense wat ook in die openbare lewe betrokke raak as Christene. Daar is só ‘n groot behoefte aan mense wat  reg en geregtigheid liefhet en hulle daarvoor beywer, maar besef toe ook dit is ons almal se taak. . . om ook in ons eie kringe op te kom vir dit wat reg en billik is. Ons Christenskap het alles daarmee te make.

Ek lees weer die opmerkings van die Deense filosoof Kierkegaard. Hy sou ‘n belangrike onderskeid maak tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus.  Bewonderaars is  mense wat baie hou van sy leringe en sy werke en sy boodskap en sy persoon.  Hulle hou van dit waarvoor Hy gestaan het. Hulle volg Hom van ver af, stel belang, luister, praat saam, is geÑ—nteresseer en beÑ—ndruk.   Leerlinge is mense wat ‘n entjie nader aan Hom is.  Hulle wil graag van Hom leer, Hom self ken, verstaan wat Hy leer,  hulle glo selfs sy leringe. Hulle kan dit ook weer aan ander verduidelik  en leer.  Maar hulle hou tog hulle afstand.  Hulle wil deel in sy standpunte, maar nie in sy lewenslot nie.   Dissipels egter  is diegene wat hulle lewe verbind met die van Jesus.  Wat hulle lewenslot by Hom inwerp.  Wat Hom volg waar Hy ook gaan.  Wat met Hom wil lewe.   En sulke mense sou hy sê in sy tyd is skaars in die kerk wat hy ken.  Wat sou hy vandag dink?

Calvyn  het opgemerk dat die hele Christelike lewe onder die opskrif selfverloëning  ter wille van Christus geplaas kan word.  Die woord vat vir hom alles saam wat dit beteken om ‘n Christen  en ‘n getuie te wees.