Heerlike, sappige en gesonde vrugte is Sondag, 4 Junie 2017 met groot vreugde deur Herberg-aan-See (HaS) inwoners in die siekeboeg ontvang, met sommige wat sommer dadelik begin proe het.
Alanda Brown van Gansbaai NGK se graad 4 kategese-kinders het vrugte van die huis af gebring vir hulle welwillendheidsbesoek aan die siekeboeg.
“Ons behandel nou die tema van naastesorg en -diens in die klas, vandaar ons gedagte om vir die pasiënte in die siekeboeg vrugte uit te deel,” het Alanda gesê. Vele welkome drukkies en kort gesprekkies was ook aan die orde van die dag. “Dit was ‘n wonderlike ervaring vir die kinders en een seun het onder andere gesê hy het nog nooit gesien hoe ‘n Tehuis vir Bejaardes van binne lyk nie.”